Springbokke teen All Blacks: Waarom rugby se grootste wedywering steeds leef
Die huidige All Blacks-toer is tereg as die “Greatest Rivalry” bemark, want die botsing tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika is waarskynlik die oudste, mees tradisieryke en betekenisvolste wedywering tussen enige rugbylande.
My eie herinneringe aan die stryd begin 77 jaar gelede. In 1949, toe ek nege jaar oud was, het my pa, Louw Joubert, my saamgeneem na die eerste toets van die All Blacks se toer deur Suid-Afrika op Newlands. In my kinderlike herinnering het die All Blacks, geklee in swart, reusagtig gelyk teenoor die Springbokke in hul groen truie.
In daardie jare het skoolseuns op plat bankies langs die kantlyn gesit, sonder enige heining tussen ons en die spelers. By een geleentheid het ’n Springbok die All Blacks-vleuel Peter Henderson reg voor my in die kantlyn ingedryf. ’n Foto van die oomblik, waarin ek taamlik verskrik gelyk het, het later in die naweekbylae van die Cape Times verskyn. Ongelukkig besit ek dit nie meer nie.
Daardie toets word ook onthou vir Okey Geffin se vyf strafdoele, waarmee die Springbokke met 15-11 gewen het. Geffin was boonop ’n voorspeler – iets wat vandag feitlik ondenkbaar is, aangesien voorspelers selde of ooit die skopwerk na die pale behartig. Sy akkuraatheid het ’n belangrike rol in Suid-Afrika se 4-0-reeksoorwinning gespeel.
Die All Blacks het na die reeks gekla dat Suid-Afrikaanse skeidsregters hulle benadeel het. Neutrale beamptes sou eers baie later in toetsrugby gebruik word. Die besoekers moes ook van hul beste spelers, die Maori-spelers, tuislaat weens die destydse Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid. Om dieselfde rede het die All Blacks tydens die toer nie die Maori-oorlogsdans, die haka, uitgevoer nie.
Nieu-Seeland het na 1949 na wraak gesmag en dit in 1956 gekry toe die Springbokke na die land van die silwer varing gereis het. Suid-Afrikaanse ondersteuners was in die dae voor televisie op radio-uitsendings en koerantberigte aangewese. Foto’s van die modderige, swak speelvelde in Nieu-Seeland het mense geskok, maar ’n beeld van die bebloede Jaap Bekker, nadat hy deur ’n All Black met die vuiste aangeval is, het die grootste verontwaardiging ontlok.
Nieu-Seeland het die eerste toets gewen, waarna die Springbokke terugslaan en die tweede wedstryd wen. Die All Blacks se keurders het toe ’n plan beraam om Suid-Afrika se sterk voorry – Chris Koch, Bertus van der Merwe en Jaap Bekker – te neutraliseer.
Hulle het Kevin Skinner, ’n voormalige Nieu-Seelandse bokskampioen, gekies. Sy taak was nie net om in die skrum te werk nie, maar ook om sy vuiste teen die Springbokke te gebruik. Hy het Koch eers ’n paar houe toegedien en daarna na Bekker se kant van die voorry beweeg. Die foto van Bekker se gesig het die omvang van die voorval duidelik gewys. Nieu-Seeland het die reeks met 3-1 gewen.
Eers in 1960 het ek die All Blacks weer van naby beleef, die keer tydens die tweede toets van daardie reeks op Newlands. Nadat Suid-Afrika die eerste toets gewen het, het die Springbokke in die tweede gesukkel. Dit was ’n onaantreklike wedstryd waarin die All Blacks oorheers het en met 11-3 geseevier het.
Ek het die toets saam met my skool- en rugbyspanmaat, Dawie de Villiers, dopgehou. Na die eindfluitjie het ons saam met die stil en somber skare na die stasie gestap. ’n Grondboontjieverkoper het toe uitgeroep: “Tonight the Boer heart is sore again.” Hy was reg.
Min het ons geweet dat dieselfde Dawie vyf jaar later Suid-Afrika op die Springbok-toer van Australie en Nieu-Seeland sou aanvoer. Soos altyd was die toer ’n groot nuusstorie. Ek kon dit die keer vanuit ’n joernalistieke perspektief beleef, aangesien ek op Die Burger se sportkantoor gewerk het.
Ons moes verslae ontvang en vir publikasie voorberei wat ons verteenwoordigers in Nieu-Seeland, Herman le Roux en Roelf Theunissen, per kabelgram na Suid-Afrika gestuur het. Omdat kabelgramme duur was – elke woord het geld gekos – het verslaggewers sogenaamde “kabeltaal” gebruik: onvolledige en verkorte sinne wat ons in Kaapstad in volledige berigte moes omskep.
Vir sommige toetse het Die Burger ’n spesiale Saterdagoggend-uitgawe uitgebring. Dit het beteken dat ons omstreeks 03:00 by die kantoor moes wees om na die toets te luister en aantekeninge te maak, ingeval die kabelgramme uit Nieu-Seeland nie betyds opdaag nie. Ek moes ook onmiddellik na die eindfluitjie sekere kenners bel om hul mening oor die wedstryd te kry.
Onder die mense wat ek onthou dat ek gebel het, was Chris Koch, wat teen daardie tyd uitgetree het, asook Oom Flappie Lochner, ’n Springbok-keurder.
Suid-Afrika het ook daardie reeks met 1-3 verloor, maar in 1970 het Dawie en sy span die bordjies verhang deur die reeks in Suid-Afrika met 3-1 te wen. Ek was ’n afwesige “toeskouer”, want die koerant het my intussen as sy korrespondent na Londen gestuur. Tog het ek die All Blacks in die tyd teen Wallis op Cardiff Arms Park en teen Engeland op Twickenham gesien.
Die hoogtepunt van daardie toer vir my was in Februarie 1973, toe ek na Parys gereis het om te sien hoe Frankryk die All Blacks met 13-6 verslaan.
Drie jaar later het nog ’n onvergeetlike oomblik gevolg toe die volgende All Blacks-toerspan Suid-Afrika besoek het. Die Springbokke het die reeks met 3-1 gewen, maar dit was nie uitsluitlik die uitslag wat by my gebly het nie. Die besondere gebeurtenis was Western Province se 12-11-oorwinning oor die toerspan op Newlands, onder die kapteinskap van Morne du Plessis.
Dit was een van die beste wedstryde wat ooit op die stadion gespeel is. Robbie Blair het kort voor die eindfluitjie ’n drie van die hoek af verdoel om Western Province die oorwinning te besorg.
Na jare van sportiewe isolasie was ek in 1994, as rugbyjoernalis, bevoorreg om die eerste Springbok-toer na Nieu-Seeland sedert 1981 vir ons koerante – Beeld, Die Burger en Volksblad – te dek. Van naby kon ’n mens ervaar hoe passievol Nieu-Seelanders oor hul gunsteling sport is.
Daar was egter ook teleurstellende oomblikke. Die ernstigste voorval het in die tweede toets in Wellington plaasgevind toe die Springbok-voorspeler Johan le Roux die All Blacks-kaptein Sean Fitzpatrick aan die oor gebyt het. Dit was ’n slapelose nag vir die media terwyl vergadering na vergadering gehou is om oor Le Roux se toekoms te besluit. Om 04:00 is ons na ’n perskonferensie ontbied, waar ons gehoor het dat Le Roux huis toe gestuur sou word.
Die All Blacks het twee van die drie toetse gewen, met uitslae van 22-14 en 13-9. Die laaste toets het in ’n 18-18-gelykopuitslag geeindig – ’n wedstryd wat die Springbokke eintlik moes gewen het.
Die toer het egter die grondslag gele vir Suid-Afrika se oorwinning oor die All Blacks in die volgende jaar se Wereldbeker-eindstryd op Ellis Park.
Fritz Joubert is ’n afgetrede adjunkredakteur en voormalige sportjoernalis van Die Burger. Hy woon in Onrusrivier.
Hierdie verhaal het die eerste keer in Die Papier verskyn.
